21 sterf toe tenkwa en bus bots
2010-11-07 05:37
Culiacan, Mexiko – Een-en-twintig mense is dood nadat ‘n tenkwa wat brandstof vervoer het in die noordwestelike Meksikaanse staat van Sinaloa met ‘n passasiersbus gebots het, het amptenare Saterdag gesê.
Ondersoekbeamptes was nog besig om te bepaal wat die ongeluk, wat net voor middernag Vrydagaand naby die grens van Nayarit plaasgevind het, veroorsaak het.
Volgens ‘n bron by Sinaloa se aanklaerskantoor is 19 mense in die botsing dood en twee ander het later in ‘n plaaslike hospitaal gesterf.
Twee kinders en agt vroue was onder die oorledenes, het die bron gesê.
Volgens die plaaslike media het die tenkwa meer as 20 000 liter brandstof in twee tenke vervoer. Een van die tenke het glo losgebreek en teen ‘n afdraande afgerol en teen die aankomende bus vasgebots.
Ons is bevrees daar is families onder die slagoffers,” het die bron gesê.
Tien passasiers, insluitende ‘n sesjarige seun, is beseer.
Onder die slagoffers was boere wat na Nayarit onderweg was om werk te soek.
Volg Nuus24 op Twitter
- Sapa - AFP