VSA: 20-jarige brand los; 4 dood
2013-02-20 08:40
VSA – Vier mense is in Orange County dood nadat ‘n twintigjarige man vroeg Dinsdagoggend op hulle losgebrand het.
Die eerste slagoffer was ‘n vrou wat hy in sy huis vermoor het, waarna hy in sy ouers se motor weggejaag het, het beamptes gesê.
Ali Syed het in die volgende uur nog twee mense in kapings doodgeskiet. Hy het ook op voertuie op ‘n besige snelweg geskiet en drie ander mense beseer.
Een bestuurder is by ‘n stopteken uit sy BMW gedwing, waarna die aanvaller hom na die sypaadjie geneem en agter in die kop geskiet het terwyl ander motoriste in skok toegekyk het.
“Hy is basies tereggestel,” het Anthony Bertagna, ‘n woordvoerder van die Santa Ana-polisiedepartement, gesê.
“Daar was minstens ses getuies.”
Syed het later sy eie lewe geneem.
Hy het saam met sy ouers by die Ladera Ranch gebly waar die eerste slagoffer, ‘n ongeïdentifiseerde vrou in haar 20’s, vermoor is, het Scott Jordan, polisiehoof van Tustin, gesê.
Hy was werkloos en het een klas by ‘n plaaslike gemeenskapskollege geneem, het Jordan bygevoeg.
Die vrou het geen verbintenis met die skieter gehad nie en dit was onbekend wat sy by die huis gedoen het, het Jim Amormino, woordvoerder van die Orange County-polisiedepartement, gesê.
Syed se ouers was in die huis ten tyde van die skietery, maar het gevlug toe hulle die skote hoor. Hulle het dit gaan aanmeld, het hy gesê.
Volgens Jordan het Syed aan een kaping-slagoffer gesê: “Ek wil jou nie seermaak nie. Ek het iemand vermoor. Vandag is my laaste dag.”
Jordan het gesê daar is geen aanduiding van die motief vir die moorde nie.
– Volg Nuus24 op Twitter
- AP