2 vas oor invoer van middels met sibutramien
2010-03-30 06:43
Antoinette Pienaar, Beeld.
Johannesburg - Twee Chinese wat glo verslankingsmiddels met ’n gevaarlike vlak van sibutramien na die VSA ingevoer het, is ná ’n geheime internasionale ondersoek in hegtenis geneem.
Die Amerikaanse kos-en-medisyne-owerheid (FDA) het in ’n verklaring gesê Sengyang Zhou (30), wat bekend is as “Tom”, is in Hawaii vasgetrek in ’n gesamentlike ondersoek deur die FDA se ondersoekers, doeane-inspekteurs en die Amerikaanse posdiens.
Sy vermeende handlanger, die 60-jarige Qingming Hu, is in Texas vasgetrek.
Dit het gebeur nadat die FDA bevind het hul verslankingskapsules is vervalsings van GlaxoSmithKline se Alli.
Sengyang, van Kunming in Yunnan, China, was glo in Hawaii om agente te werf toe hy verlede week in hegtenis geneem is.
As hy skuldig bevind word, kan hy tot 38 jaar tronkstraf gevonnis word.
Die ondersoek het in Maart verlede jaar begin toe doeane-inspekteurs 6?000 Super Slim-kapsules onderskep het.
André Coetzee, eienaar van Super Slim in Suid-Afrika, het gister gesê die Chinese produk het niks met syne te doen nie.
Coetzee se Super Slim word in Suid-Afrika vervaardig en bevat bestanddele van die hoodia-plant.
Een van Sengyang se beweerde slagoffers was ’n man wat Alli gebruik het en ’n goedkoper produk op die internet gekoop het.
Die man het gedink hy kry ’n hartaanval nadat hy erge newe-effekte, waaronder hartkloppings, ’n dooie gevoel in sy linkerarm, erge angs, hoofpyn en druk op sy oë, erge sweet en die bewerasie, ondervind het.
Die FDA se chemiese laboratorium het glo sibutramien in sy pille gekry.
Sibutramien is die aktiewe bestanddeel in voorskrifverslankingsmiddels soos Reductil, wat in Suid-Afrika op doktersvoorskrif beskikbaar is.
Volgens die FDA kan hoë dosisse sibutramien hipertensie, konvulsies, hartaanvalle en beroertes veroorsaak.
Suid-Afrikaanse medisyne-inspekteurs hou deesdae alle verslankingsmiddels by doeanepoorte terug weens ’n toename in die aantal besmette produkte wat die land, veral van China, af inkom.
Die Suid-Afrikaanse Medisynebeheerraad (MBR) het in Februarie gelas dat verkope van die verslankingsmiddel Simply Slim opgeskort word nadat sy ondersoekers sibutramien daarin gekry het.
Beeld het vroeër toetsresultate gesien wat getoon het daar was tot 33 mg sibutramien in Simply Slim-kapsules.
Dit is meer as dubbel die maksimum dosis wat deur dokters voorgeskryf mag word.
Die produk is egter deur agente, dikwels huisvroue, skoonheidsdeskundiges en selfs haarkapsters, verkoop.
Toetsresultate van Pharmaworx in Midrand het getoon daar is onderskeidelik sowat 26?mg en 29?mg sibutramien in twee besendings Nu-Evo.
Simply Slim en Nu-Evo se eienaars is reeds besig met planne om nuwe produkte bekend te stel.
Sibutramien is ook gevind in kapsules wat met die handelsmerke Forme Slim en HNS New Me gemerk is.
Let op hiérna
Die FDA waarsku al jare teen ongeregistreerde verslankingsmiddels omdat dit voorskrifmedisyne soos sibutramien, antidepressante en sterk ontwateringsmiddels kan bevat.
Tekens van “gesondheidsbedrog” is volgens die FDA:
Beloftes van ’n maklike oplossing vir probleme soos oorgewig, haarverlies of impotensie.
Aansprake dat die middel veilig is omdat dit “natuurlik” is.
Aansprake soos “wetenskaplike deurbraak”, “wonderkuur”, “geheime bestanddeel” en “antieke kuur”.
Terme wat indrukwekkend klink, soos “termogenese” (hitteverwekkend).
Ongepubliseerde gevallestudies en persoonlike getuienis deur verbruikers en dokters oor “verstommende resultate”.
Beloftes van geen risiko en ’n geldterug-waarborg.
Bron: FDA