2 Tereggestel vir besmette melk
2009-11-24 19:27
Beijing – Twee mans is Dinsdag in China tereggestel vir hulle aandeel in die besmette melkskandaal wat ses kinders doodgemaak het én die Chinese handelsnaam geskend het.
Nagenoeg 300 000 kinders het verlede jaar siek geword nadat hulle die melkformule ingekry het wat die gifstof melamien bevat het.
Die gifstof was deur die grootste produsent, die Sanlu-groep verkoop wat tans bankrotskap in die gesig staar. 21 werknemers van Sanlu is in Januarie skuldig bevind en gevonnis vir hul aandeel in die saak.
Volgens hofdokumente is Zhang Yujun tereggestel vir die feit dat hy die publiek se veiligheid in gevaar gestel het, terwyl Geng Jinping tot die dood veroordeel is vir die produsering en verkoop van toksiese voedsel.
Daar word beweer dat Zhang meer as 770 ton melamien proteïen poeier geproduseer het, waarvan hy meer as 600 ton tussen Julie 2007 en Augustus 2008 verkoop het.
Geng het meer as 900 ton besmette melk verkoop, het hofdokumente gesê.
Maar die vrou wat vir hierdie tragedie geblameer word, is lewenslange tronkstraf opgelê.
Meeste van die families wie se kinders vergiftig is, het hul woede op Tian Wenhua, Sanlu se gewese algemene bestuurder geplaas. Volgens die families het hulle misleidend gevoel omdat sy nie tereggestel sou word nie.
Tian het verlede jaar skuldig gepleit op aanklagtes wat nie die doodstraf as straf dra nie.
Luidens hofdokumente het sy appél aangeteken, maar dit was nie deur die hof aanvaar nie.
Sanlu-beamptes was reeds vroeg Augustus bewus van die melamien probleem, maar het die publiek eers teen middel September daarvan ingelig, omdat China ‘n goeie indruk tydens die Beijing Olimpiese spele wou skep.
Melamien, wat nierstene kan veroorsaak, word gebruik vir die maak van plastiek, kunsmis en beton. Sy hoë stikstofinhoud veroorsaak dat proteïenvlakke hoër vertoon wanneer dit by melk of veevoer bygevoeg word.
- Reuters