1ste groot aanval ná Bin Laden se dood
2011-05-04 10:51
Bagdad – Minstens 16 mense is Dinsdag dood toe ‘n motorbom in ‘n kafee waar jong mans ‘n voetbalwedstryd gekyk het, ontplof het, het beamptes gesê.
Dié bomaanval in Bagdad, Irak, is die eerste groot aanval sedert Amerikaanse troepe die Al-Kaïda-leier Osama bin Laden doodgeskiet het.
Niemand het tot dusver verantwoordelikheid vir die aanval aanvaar nie. AP berig dat die aanval aan die terreurnetwerk se styl in Irak herinner.
Lede van Al-Kaïda het vroeër bekend gemaak dat hulle wraak sal neem ná Bin Laden se dood.
Volgens die polisie en hospitaalbeamptes is meeste van die oorledenes jong mense wat die voetbalwedstryd in die gewilde kafee gekyk het.
‘n Straatverkoper wat kos naby die kafee verkoop het, het ook gesterf.
Volgens die beamptes is 37 mense in die bomaanval gewond.
“Hierdie is ‘n lafhartige reaksie van Al-Kaïda nadat die groot terroris Bin Laden doodgemaak is...” het Jasim Hashim, ‘n 20-jarige student wat naby die kafee woon, gesê.
Volg Nuus24 op Twitter.
- Sapa - AP