19 spykers uit bediende getrek
2010-08-27 14:33
Colombo - ‘n Sri Lankaanse bediende, wie se werkgewer na bewering 24 spykers in haar liggaam in geslaan het, het Vrydag in die hospitaal herstel nadat dokters 19 van die spykers in ‘n drie uur lange operasie uit haar liggaam getrek het.
L.T. Ariyawathi (49) sê haar werkgewer in Saoedi-Arabië het die spykers in haar in gekap as ‘n straf.
Sy is die naweek in die hospitaal opgeneem nadat sy met haar terugkeer huis toe gekla het sy is in erge pyn en dat sy nie kon loop nie.
“Ons het 13 groot spykers van ongeveer vyf sentimeter elk en ses kleineres uitgetrek, het hospitaaldirekteur, Prabath Gajadeera, aan AFP gesê.
Hy sê ses van die spykers is nie onmiddellik uitgetrek nie omdat die prosedure skade aan haar senuwees kon veroorsaak.
"Sy is nou wakker en herstel goed,” het Gajadeera gesê.
Die vrou, wat in Maart na Saoedi-Arabië gereis het, is erg getraumatiseer en kon nog nie die volle besonderhede van haar ervarings meedeel nie.
Die Sri Lankaanse polisie het egter reeds met ‘n ondersoek begin.
- Volg Nuus24 op Twitter
- Sapa - AFP