19 Vermis ná gebou ineenstort
2012-01-26 16:31
Rio de Janeiro – Negentien mense word vermis en vyf is beseer nadat drie geboue, waarvan een van hulle 20 vloere hoog is, Woensdag in Rio de Janeiro ineengestort het, het owerhede gesê.
Die ineenstorting, wat moontlik veroorsaak is deur struktuurprobleme, kom terwyl Brasilië besig is om voorbereidings te tref vir die Wêreldbeker-sokkertoernooi in 2014 en 2016-Olimpiese Spele.
"Drie geboue het ineengestort – 'n gebou van 10 vloere hoog, 'n ander een wat 20 vloere hoog is en 'n kleiner gebou van drie of vier vloere," het Eduardo Paes, burgemeerster van Rio de Janeiro, laat Woensdag aan verslaggewers gesê.
"Om 'n presiese getal van die slagoffers te gee, gaan spekulasie wees," het hy bygevoeg.
Paes het vroeg Donderdag aan Globo televisienuus gesê die 19 mense wat ten tyde van die ineenstoring in die geboue was, het nog nie teruggekeer huistoe nie.
Reddingswerkers is steeds besig om met snuffelhonde deur die puin na vermistes te soek.
Volgens ooggetuies het hulle 'n ontploffing gehoor voordat die gebou ineengestort het.
– Volg Nuus24 op Twitter.
- AFP