16 sterf buite hof in bomaanval
2009-11-19 10:33
Peshawar - ‘n Selfmoordaanvaller het homself opgeblaas na sekuriteitswagte probeer keer het dat hy 'n hof in Peshawar binnegaan.
Sestien mense het in die ontploffing gesterf en nog 36 is beseer wat reeds die sesde aanval in 11 dae in dié stad is.
Die ontploffing het naby die Pearl Continental Hotel plaasgevind, waar nege mense in Junie vanjaar dood is toe aanvallers ‘n vragmotor vol plofstof opgeblaas het.
Aanvalle in die noordweste van Pakistan het skerp gestyg met die ontplooing van 30 000 Pakistanse troepe in Taliban-beheerde gebiede naby die grens met Afganistan.
“Dit was ‘n selfmoordaanval, die aanvaller was te voet en het probeer om die hof binne te gaan, toe sekuriteitswagte hom wou stop, het hy homself opgeblaas,” het Sahib Zada Anis, hoof van dié stad se administrasie aan verslaggewers gesê.
Anis het gesê drie polisiemanne is ook in die aanval dood.
- Sapa-AFP