16 pelgrims sterf ná bus aan die brand slaan
2012-05-19 16:34
Lucknow, Indië – Sestien mense is dood en meer as 20 is beseer nadat ‘n oorvol bus, wat pelgrims na ‘n Moslem-tempel in die noordelike Indiese staat Uttar Pradesh vervoer het, in ‘n geparkeerde vragmotor vasgery het, het die polisie Saterdag gesê.
Sommige van die 78 passasiers aan boord die 54-sitplek bus het paraffien en gassilinders by hulle gehad, wat daartoe bygedra het dat die bus “in ‘n bal vuur” verander het, het ‘n polisiebeampte, Iqbal Mallik, gesê.
Sommige passasiers het uit die agterkant van die bus ontsnap en ander deur ‘n venster.
Diegene wat brandwonde opgedoen het, insluitende nege wat in ‘n ernstige toestand is, word by ‘n nabygeleë hospitaal behandel.
Die busoperateur word ondersoek omdat hy onwettig toegelaat het dat vlambare kookitems toegelaat is, eerder as om self kos voor te berei, soos wat gewoonlik die geval is met Indiese toere, het die staatminister, Waqar Ahmad, gesê.
“Die toeroperateur se permit is gekanselleer,” het Ahmad gesê.
– Volg Nuus24 op Twitter
- Sapa - AP