16 dood, 10 vermis in Oekraïne-ontploffing
2011-07-29 11:05
Kiev – Altesaam 16 mynwerkers is dood en nog tien word vermis ná ‘n ontploffing in ‘n steenkoolmyn in die Lugansk-streek in die ooste van die Oekraïne.
Nog twee werkers word in die hospitaal behandel vir brandwonde wat hulle opgedoen het in die ongeluk, het owerhede hier gesê.
“Tien mynwerkers se lot is steeds onbekend,” het ‘n verklaring deur die noodgevalle-ministerie gelui.
Daar was altesaam 28 mense in die myn toe die ontploffing omstreeks 01:57 Vrydag plaasgevind het.
Volgens ‘n woordvoerder vir die noodgevalle-ministerie se plaaslike tak in Luganks, is drie mynwerkers in die hospitaal, terwyl nege steeds in die myn vasgekeer is.
Yury Boiko, die Oekraïne se minister van energie, het Vrydag die Sukhodolskaya-Vostochnaya steenkoolmyn besoek om self die reddingspoging aan te voer.
Owerhede het nie besonderhede oor die oorsaak van die ontploffing bekendgemaak nie. Die meeste van die land se mynrampe is veroorsaak deur die opbou van metaangas.
– Volg Nuus24 op Twitter.
- SAPA