14 vas ná China betogings
2009-08-05 10:42
Beijing - Minstens 14 mense is in hegtenis geneem en aangekla vir publiek opstande, ná betogings in China oor die misterieuse dood van ‘n sjef in Junie vanjaar.
Duisende mense het in Shishou in China se Hubei-provinsie op 17 Junie vanjaar betoog, ná die lyk van ‘n sjef, Tu Yuangao, buite ‘n hotel waar hy gewerk het, gevind is.
Polisie het gesê dit was selfmoord, maar gerugte dat hy deur ‘n bende of die baas van die hotel doodgemaak is, het vinnig versprei.
Betogers het strate geblokkeer, vensters stukkend geslaan en die Yonglong-hotel aan die brand gesteek.
‘n Amateur-video wys hoe honderde betogers polisie met voorwerpe gooi en hoe polisie dan onttrek. Meer as 200 mense is in die voorval beseer.
Die verhoor van die 14 mense wat in hegtenis geneem is sal binnekort begin terwyl 17 ander wat ook tydens die proteste gevang is, vrygelaat is.
Die stad se polisiehoof en hoof van die kommunistiese party is intussen afgedank omdat hulle nie die situasie reg hanteer het nie. Hulle het drie dae gewag voor daar op die onruste gereageer is.
-Sapa