14 beseer in Taiwan-aardbewing
2009-12-20 07:40
Taipei – Altesaam 14 mense is beseer en skade is aan die hoofstad aangerig toe ‘n magtige aardbewing Taiwan getref het, het amptenare Sondag gesê.
Volgens ‘n amptenaar van Taiwan se nasionale brandweerdiens het die 14 slagoffers nie ernstige beserings opgedoen nie. Hulle is almal van die oostelike stad Hualien, 135 km suid-oos van die hoofstad.
Dertien van die slagoffers het siek geword nadat hulle chloorgas ingeasem het wat uit ‘n hotel gelek het. ‘n Ander slagoffer is beseer toe puin op die persoon geval het.
Volgens die Amerikaanse Geologiese Opname het die aardbewing 6,4 op die Richterskaal gemeet en was die kern ongeveer 25 km van Hualien af.
Geboue het vir ‘n paar sekondes ná die aardbewing gebewe.
Taipei se vervoerstelsels was vir ‘n ruk buite werking, het plaaslike televisiekanale berig.
- Sapa