13 miljoen aborteer jaarliks in China
2009-07-30 09:30
Beijing – Jong vroue se onkunde oor voorbehoedmiddels is dalk die oorsaak van sowat 13 miljoen aborsies wat jaarliks in China gedoen word.
Só het kenners gesê nadat statistieke oor gesinsbeplanning in dié land Donderdag aan die lig gekom het.
Die China Daily berig dat dié statistiek veel hoer is omdat die gerekende 13 miljoen aborsies slegs in hospitale uitgevoer word.
“Baie meer aborsies word in klinieke uitgevoer wat nie geregistreer is nie. Meer as 10 miljoen aborsiepille word elke jaar in China verkoop.”
Wu Shangchun, ‘n regeringsbeampte van nasionale bevolkings-en-gesinsbeplanningskommissie, het aan dié koerant gesê byna die helfte van die vroue wat aborsies laat doen gebruik geen vorm van voorbehoedmiddels nie.
Sapa-AP