13 dood, talle vermis ná grondstortings
2010-01-06 01:27
Islamabad - Dertien mense is dood toe swaar sneeu in die noorde van Pakistan grondstortings veroorsaak het, het polisie Dinsdag gesê.
Sewe kinders, vier vroue en twee mans se lyke is uit die modder gehaal, het amptenare gesê.
Die dodetal sal na verwagting styg.
“Dertien mense is vandag begrawe. Talle ander word nog vermis en die kanse is skraal dat hulle lewend gevind sal word,” het Zaid Ullah, ’n polisieamptenaar, telefonies aan AFP vanuit die Hunza-distrik in Gilgit Balitistan, Pakistan, gesê.
“Die grondstortings het die dorp Atabad, waar ongeveer 30 tot 35 families gewoon het, verwoes,” het hy gesê.
'n Twee kilometer lange deel van die Karakoram-hoofweg, wat na die Chinese grens ly, is ook beskadig. Verkeer op die hoofweg is tot stilstand gebring.
“Ongeveer 25 mense word vermis. Daar is nie ’n kans dat hulle lewend gevind sal word nie. Diegene wat (deur die modder) begrawe is, is dood,” het Bahader Hussein, ook ’n polisieamptenaar, telefonies aan AFP gesê.
-Sapa-AFP