12 sterf ná bom by busstasie ontplof
2012-02-23 13:05
Peshawar – Twaalf mense, insluitende twee kinders, is aan die buitewyke van Peshawar in Pakistan dood nadat ‘n motorbom by ‘n busstasie ontplof het, het amptenare gesê.
Die aanval het op die pad na Kohat naby die wettelose stamgebiede plaasgevind, ‘n vesting van militante wat met die Taliban en Al-Kaïda verbind word en wat daarvan beskuldig word det hulle beide Pakistan en Afganistan teister.
“Dit was ‘n motorbomontoploffing. Twaalf mense is dood en 32 is beseer. Ons stel nog vas of ‘n selfmoordbomaanvaller betrokke was of nie,” het senior-polisiebeampte Kalam Khan aan AFP gesê.
Die televisiekanaal Dunya het beeldmateriaal van die terrein gewys waar die wrak van ‘n motor langs ander beskadigde voertuie gelê het en ambulanse en reddingswerkers gehaas het om beseerdes na hospitale te neem.
Dokter Rahim Jan het aan AFP gesê 12 lyke is na Pashawar se Lady Reading-hospitaal geneem en 35 mense is beseer.
“Ons het ‘n noodtoestand in die hospitaal aangekondig,” het hy gesê.
“Verskeie lyke is erg verbrand. Tien tot 12 van die beseerdes is in ‘n kritieke toestand,” het hy bygevoeg.
Niemand het verantwoordelikheid vir die aanval aanvaar nie en die presiese teiken was onbekend.
– Volg Nuus24 op Twitter
- Sapa - AFP