11 verloor sig ná operasie
2009-10-26 13:27
New Delhi – Minstens 11 mense het die sig in minstens een van hulle oë verloor nadat gratis katarakoperasies in Indië se suidelike staat van Andhra Pradesh skeefgeloop het.
Die oë of oog van pasiënte waarop geopereer is, moes verwyder word nadat hulle infeksies ontwikkel het.
Die operasies is by die Bollineni-hospitaal in die Nellore-distrik gedoen en dokters het gesê die infeksies was as gevolg van besmette medikasie of instrumente wat tydens dié operasies gebruik is.
Sowat 20 pasiënte het die operasie ondergaan en sommige het dit verniet ontvang.
Die land se se minister van gesondheid het ‘n ondersoek tot die voorval geloods en owerhede gevra om alle operasies van so ‘n aard stop te sit.
"Om jou sig te verloor is soos om jou lewe te verloor, en as hierdie ‘n geval van nalatigheid was sal ons aksie neem,” het die minesterie gesê.
Owerhede by die hospitaal is steeds nie seker wat presies verkeerd geloop het nie, maar hulle ontken dat dokters nalatig was. Daar word geglo dat die infeksies deur die oogdruppels wat ná die operasies gebruik is, veroorsaak kon word.
- Sapa