100ste Tibettaan brand
2013-02-13 09:50
Katmandoe – ‘n Tibettaanse monnik wat hom Woensdag in ‘n restaurant in Katmandoe vol petrol gegooi en aan die brand gesteek het, was die 100ste Tibettaan sedert 2009 om op dié manier teen China se beheer oor Tibet protes aan te teken.
Keshav Adhikari, ‘n polisiewoordvoerder, het aan AFP gesê dat die man hom by ‘n restaurant naby die Boudhanath Stupa, 'n tempel, aan die brand gesteek.
Verskeie toeriste wat by die restaurant ontbyt geëet het, was in skok oor wat hulle gesien het.
“’n Man in sy twintigs het omstreeks 08:20 (02:35 GMT) by ‘n restaurant op die perseel van die Boudhanath Stupa ingekom. Hy het reguit na die badkamer gegaan en petrol oor sy lyf uitgegooi en homself aan die brand gesteek,” het hy gesê.
Die Tibettaanse regering, wat in ballingskap is, is in die Indiese dorp Dharamshala aan die voet van die Himalaja gebaseer. Die regering het voorheen die aantal mense wat hulle sedert 2009 aan die brand gesteek het, op 99 geplaas. Altesaam 83 van dié mense is dood.
Die golf van grusame betogings, wat meestal plaasvind in dele van China waar Tibettane woon, word gesien as ‘n teken van desperaatheid in die gemeenskap oor vermeende godsdienstige vervolging in Tibet.
– Volg Nuus24 op Twitter
- AFP