100-jarige vang graad dag voor dood
2010-01-27 04:02
Concord, New Hampshire – ‘n Afgetrede onderwyser van New Hampshire wat vroeër die maand 100 jaar oud geword het, het ‘n ander mylpaal die dag voor haar dood gehaal: sy het haar baccalaureus graad verwerf.
Harriet Richardson Ames het Vrydag haar graad in haar bed ontvang en sy is die volgende dag oorlede.
Volgens haar dogter, Marjorie Carpenter, was dit die laaste ding op haar ma se lys van dinge om te doen voor sy doodgaan.
Ames het in 1931 van die Keene Normal skool gegradueer met ‘n twee-jaar onderwys sertifikaat. Sy het verskeie kollege kursusse geloop en in 1971 afgetree.
Terwyl Ames deelgeneem het aan ‘n film oor die 100ste herdenking van wat nou die Keene Staatskollege is, het sy genoem dat sy graag haar graad sou wou hê.
Amptenare van die skool het hul rekords nagegaan en gevind dat sy aan al die vereistes voldoen het om haar graad te verwerf.
- Sapa-AP