Wêreld gons oor sterrereën in Rusland
2013-02-15 10:25
Moskou – Sowat 100 mense is beseer toe ‘n sterrereën Vrydag ontploffings in die laer atmosfeer bo sentraal-Rusland en die Urals-streek veroorsaak het, het beamptes gesê.
“Daar was ‘n sterrereën, sonder stukke wat op die grond geval het. ‘n Meteoroïed het bo die Chelyabinsk-streek (van die Urals) ontplof. Die skokgolf het vensters op verskeie plekke uitgeblaas,” het ‘n woordvoerder van die ministerie van noodgevalle aan die Interfax-nuusagentskap gesê.
AP het berig dat 102 mense mediese hulp ontvang het, grootliks vir beserings wat deur glas veroorsaak is wat in die ontploffings gebreek het.
Vadim Kolesnikov, woordvoerder vir die ministerie van binnelandse sake, het gesê 600 vierkante meter van ‘n dak by ‘n sinkfabriek het inmekaargesak.
Teenstrydige berigte oor wat presies gebeur het, het Vrydag uitgekom. ‘n Woordvoerder vir die ministerie van noodgevalle, Irina Rossius, het aan die Asoociated Press gesê daar was ‘n sterrereën.
‘n Ander woordvoerder vir die ministerie, Elena Smirnikh, het beweer dit was ‘n enkele meteoor.
Kyk hier na video’s:
AP het later berig dat meer as 400 mense eseer is. Drie is glo in 'n ernstige toestand in die hospitaal opgeneem.
– Volg Nuus24 op Twitter
- Sapa - AFP