€1 miljoen se vervalste geld gevind
2011-10-06 17:58
Warskou – Die polisie in Pole het beslag gelê op meer as €1 miljoen (sowat R10,69 miljoen) se vals kontantnote naby Warschau in die grootste vonds van sy soort in die land se geskiedenis, het die polisie Donderdag gesê.
‘n Vyf-en-sestig-jarige man is in hegtenis geneem vir die vervaardiging van vals geld en dokumente en staar 25 jaar se tronkstraf in die gesig.
Die polisie het ook beslag gelê op toerusting wat gebruik word om vals banknote te druk, sowel as vals dokumente soos paspoorte.
Dit was die grootste fabriek van sy soort wat nog vanjaar deur die polisie in Europa ontdek is, het die polisie gesê.
Europol is ingelig van die vonds om vas te stel of en waar die vals geld buite Pole gebruik is.
Volgens die polisie kon die fabriek moontlik gereed gemaak het om die geld reg te kry vir die Euro 2012-sokkerkampioenskap, wat Pole saam met die Oekraïne aanbied.
– Volg Nuus24 op Twitter
- Sapa-DPA