’n Ster in oortreffende trap

2010-09-02 08:43
Tweets Share Share line Print

Kaapstad - In die agt jaar sedert sy herstel van maagkanker het die gevierde ­Italiaanse dirigent Claudio ­Abbado hom toegespits op enkele ­projekte wat hom na aan die hart lê.

Hy het onder andere sy “Orchestra ­Mozart” van jong musici in Bologna gestig en begin werk aan ’n program van musiekopleiding vir die jeug in Italië (wat geskoei is op Venezuala se nou reeds beroemde El Sistema).

Nêrens het hy egter meer lojale ­aanhang opgebou as in die Switserse meerstadjie van Luzern nie. Die ­Luzern-fees – wat in 1938 deur Arturo Toscanini van stapel gestuur is en nou spog met ’n nuwe konsertsaal deur die argitek Jean Nouvel – het ’n tweede tuiste geword vir die man wat Herbert von Karajan in 1989 as hoofdirigent van die Berlynse Filharmoniese Orkes opgevolg het.

Benewens die Orchestra Mozart is hy nie meer betrokke by enige vaste ­orkeste nie, maar in Luzern het hy vir homself ’n orkes geskep wat deur ­sommige as die heel beste ter wêreld beskou word. Die Luzern-feesorkes is ’n handgekeurde groep musici uit die voorste orkeste van Europa wat net ­elke somer bymekaargebring word om onder Abbado te speel.

In die afgeskaalde konsertprogram wat deur sy siekte genoodsaak is, het Abbado se optredes kleinode geword. In Mei vanjaar het hy sy ou orkes in Berlyn gedirigeer in ’n program van werke van Schubert, Schoenberg en Brahms. In Junie sou hy ná ’n afwesigheid van 24 jaar terugkeer na La Scala in Milaan waar hy tussen 1968 en 1986 musiekdirekteur was.

Die eise van ’n grootskaalse operaproduksie en -speelvak is waarskynlik nou buite die bereik van die 77-jarige dirigent en hy sou twee uitvoerings van Gustav Mahler se Simfonie Nr. 2 dirigeer – ’n werk waarvan die temas van stryd en herlewing in onlangse ­jare in Abbado se lewe weerklink het. Hy is egter gehospitaliseer weens ­uitputting en moes die optredes ­kanselleer.

Sy getroue gehoor by die somerfees in Luzern het ’n soortgelyke teleur­stelling vrygespring. Sedert 2003 is ­Abbado en sy Luzerners besig met ’n ­siklus van die simfonieë van Mahler en vanjaar het die epiese Nr. 9 aan die beurt gekom.

Vir die opening van die fees het ­Abbado egter teruggekeer na ’n ander komponis en ’n genre wat albei ­prominent figureer in sy loopbaan, toe hy twee uitvoerings van Beethoven se opera Fidelio gelei het (wat op CD ­uitgereik sal word).

Die rolbesetting was só ’n indrukwekkende opgawe van betreklike jong sangers in hierdie rolle as wat ’n mens tans sal vind. Die Sweedse sopraan ­Nina Stemme, die Duitse tenoor Jonas Kaufmann en die Duitse bas-bariton Falk Struckmann het die hoofrolle van Leonora, die ingekerkerde Florestan en die bose Don Pizarro vertolk.

Stemme is een van die opwindendste jong sterre wat haar stemtipe betref en uit haar Leonora was dit duidelik waarom sy deesdae ’n gereelde ­besoeker aan die Wagner-heiligdom in Bayreuth is. Kaufmann is een van die gesogste tenore op die internasionale toneel – ’n hartebreker met ’n stem en ’n verhoogpersoonlikheid wat hom ­ in dramatiese rolle onweerstaanbaar maak.

Rondom Struckmann het die venyn van Pizarro gespat op ’n manier wat ’n konsertuitvoering laat gloei het met die dramatiese uitwerking van ’n ­volledige produksie. Die verrassingspakket van die aand was miskien die onbesonge bas Cristoph Fischesser as Rocco, met ’n stem van weelderige warmte.

Maar die onbetwiste ster was ­Abbado. Daar is deesdae ’n haas spirituele element aan elk van sy uitvoerings. Die sigbaar verswakte dirigent wat op die verhoog stap word met die lig van sy dirigeerstokkie getrans­formeer tot die maestro van die ­volledige emosionele bestek en ­teg­niese eise van Beethoven se musiek. Musici wat saam met hom werk praat dikwels oor sy verstommende vermoë om met die minimum woorde ongekende dieptes in bekende musiek te ­verken. In tonele soos die kerker-konfrontasie tussen Florestan, ­Pizarro en ­Leonore, en die jubelende ­finale, bons hy met energie onversoenbaar met sy ­ouderdom, maar sonder om ooit in te boet aan die fyn balans van die musiek.

Hy rig daardie musiek tot ’n ­intensi­teit van drama of vreugde wat ’n mens onwillekeurig laat terugdeins in jou sitplek of saam met Beethoven ­jubel, selfs in só ’n half-opgevoerde ­uit­voering. En in die introspektiewer oomblikke – die kwartet “Mir ist so wunderbar” of die koor van die ­gevangenes – tower hy uit die orkes ’n delikaatheid van klank wat die ­emosie haas tasbaar maak.

Verskeie van die gesigte in die ­Mahler-kamerorkes – nog ’n orkes ­byeengebring deur Abbado en die kern van die Luzern-feesorkes – was ­herkenbaar uit dokumentêre oor ­Abbado as dissipels van die maestro: topmusici wat enigiets sal laat vaar om saam met die Italianer te werk.

Die tema van die Luzern-fees vanjaar is “Eros” en Fidelio word ten regte of ten onregte gevier as die hoogste ­uitdrukking van getroude liefde op die operaverhoog. Hierdie uitvoering was egter netsoveel ’n uitdrukking van ­ander liefdes: tussen Abbado en Beethoven, van Abbado se musici vir hom, tussen die gehoor en “hul” maestro.

- Die Burger

Lees meer oor: vermaak

binne nuus24

Nuutste Nuus-kommentaar

Wessel sê... Nie geweet die duiwel het boodskappers nie Lees die storie...

Weer
Verkeer
Lotto
Ksd: 11-20°C Morning clouds. Mild. Pta: 8-20°C Sunny. Cool.
Jhb: 7-17°C Sunny. Cool. Bfn: 7-21°C Afternoon clouds. Cool.
Dbn: 16-25°C More sun than clouds. Mild. PE: 15-24°C Sunny. Mild.
7-dag-voorspelling...

Betrekkinge - Vind jou droomwerk

Business Analyst

South Africa. Johannesburg
Hire Resolve
R30000 - R40000

SAP Analyst – Automotive Industry

South Africa. Port Elizabeth
Hire Resolve
R300000 - R420000

Network Engineer (CCNP and CCSP)

Johannesburg, South Africa
Modis Professional Recruitment Services (Pty) Ltd
Market Related

Motors - Soek deur duisende nuwe en gebruikte motors

ISUZU

KB250 Dc LE LWB Dsl
2004
R 125,995.00

TOYOTA

Corolla 160i GLE AT MY05
2006
R 129,995.00

AUDI

A4 2.0 TDi Dsl 125kW
2007
R 274,995.00

Eiendomme - Vind 'n nuwe huis

Reis - Besoek, Bespreek, Laat Waai!

Casa Rex, Vilanculos

Spend 5 nights in at the magical Mozambican resort of Casa Rex from R7983 per person sharing. Includes accommodation, return flights, taxes and transfers. Book now!

Kalahari.com - doen vandag jou inkopies aanlyn

TV-reekse

As jy nie weet wat de joos in die laaste seisoen van jou gunstelingprogram gebeur het nie. Kry die DVD-versamelstel van die reeks nou. Koop dit nou.

Fifty Shades of Grey-reeks

Hou Jack Frost in toom en laat Christian Grey jou onthuts met New York se Nommer 1-reeks Fifty Shades of Grey. Koop dit nou.

Spesiale aanbod op Playstation-speletjies

Herontdek jou opwindende verhouding met jou Playstation deur hierdie uitgesoekte titles op ’n spesiale aanbod aan te skaf. Koop dit nou.

Die BBC Earth-versameling

Laat die ontdekkingsreisiger in jou tot uiting kom met die BBC Earth-versameling op Blu-Ray. Koop dit nou.

DVD’s vir kinders vir R89

Verlig die verveling van die kinders met 2 DVD’s vir R89. Koop dit nou.

DSTV HD PVR-dekodeerder

Nou Slegs R1299.95

Stop, speel terug en opneem, alles in hoe definisie. Neem ten volle beheer en besluit self wat jy wil kyk met DSTV se HD PVR. Koop nou.

Besoek www.kalahari.com vir miljoene boeke, musiek, DVD's, games & meer!

'n Aanlyn-gemeenskap waar jy mense kan ontmoet, foto’s en video’s kan oplaai en veel meer...
Daar is vars stories op ons tuisblad. Kliek hier om hulle te lees.