’n Ster in oortreffende trap
2010-09-02 08:43
Kaapstad - In die agt jaar sedert sy herstel van maagkanker het die gevierde Italiaanse dirigent Claudio Abbado hom toegespits op enkele projekte wat hom na aan die hart lê.
Hy het onder andere sy “Orchestra Mozart” van jong musici in Bologna gestig en begin werk aan ’n program van musiekopleiding vir die jeug in Italië (wat geskoei is op Venezuala se nou reeds beroemde El Sistema).
Nêrens het hy egter meer lojale aanhang opgebou as in die Switserse meerstadjie van Luzern nie. Die Luzern-fees – wat in 1938 deur Arturo Toscanini van stapel gestuur is en nou spog met ’n nuwe konsertsaal deur die argitek Jean Nouvel – het ’n tweede tuiste geword vir die man wat Herbert von Karajan in 1989 as hoofdirigent van die Berlynse Filharmoniese Orkes opgevolg het.
Benewens die Orchestra Mozart is hy nie meer betrokke by enige vaste orkeste nie, maar in Luzern het hy vir homself ’n orkes geskep wat deur sommige as die heel beste ter wêreld beskou word. Die Luzern-feesorkes is ’n handgekeurde groep musici uit die voorste orkeste van Europa wat net elke somer bymekaargebring word om onder Abbado te speel.
In die afgeskaalde konsertprogram wat deur sy siekte genoodsaak is, het Abbado se optredes kleinode geword. In Mei vanjaar het hy sy ou orkes in Berlyn gedirigeer in ’n program van werke van Schubert, Schoenberg en Brahms. In Junie sou hy ná ’n afwesigheid van 24 jaar terugkeer na La Scala in Milaan waar hy tussen 1968 en 1986 musiekdirekteur was.
Die eise van ’n grootskaalse operaproduksie en -speelvak is waarskynlik nou buite die bereik van die 77-jarige dirigent en hy sou twee uitvoerings van Gustav Mahler se Simfonie Nr. 2 dirigeer – ’n werk waarvan die temas van stryd en herlewing in onlangse jare in Abbado se lewe weerklink het. Hy is egter gehospitaliseer weens uitputting en moes die optredes kanselleer.
Sy getroue gehoor by die somerfees in Luzern het ’n soortgelyke teleurstelling vrygespring. Sedert 2003 is Abbado en sy Luzerners besig met ’n siklus van die simfonieë van Mahler en vanjaar het die epiese Nr. 9 aan die beurt gekom.
Vir die opening van die fees het Abbado egter teruggekeer na ’n ander komponis en ’n genre wat albei prominent figureer in sy loopbaan, toe hy twee uitvoerings van Beethoven se opera Fidelio gelei het (wat op CD uitgereik sal word).
Die rolbesetting was só ’n indrukwekkende opgawe van betreklike jong sangers in hierdie rolle as wat ’n mens tans sal vind. Die Sweedse sopraan Nina Stemme, die Duitse tenoor Jonas Kaufmann en die Duitse bas-bariton Falk Struckmann het die hoofrolle van Leonora, die ingekerkerde Florestan en die bose Don Pizarro vertolk.
Stemme is een van die opwindendste jong sterre wat haar stemtipe betref en uit haar Leonora was dit duidelik waarom sy deesdae ’n gereelde besoeker aan die Wagner-heiligdom in Bayreuth is. Kaufmann is een van die gesogste tenore op die internasionale toneel – ’n hartebreker met ’n stem en ’n verhoogpersoonlikheid wat hom in dramatiese rolle onweerstaanbaar maak.
Rondom Struckmann het die venyn van Pizarro gespat op ’n manier wat ’n konsertuitvoering laat gloei het met die dramatiese uitwerking van ’n volledige produksie. Die verrassingspakket van die aand was miskien die onbesonge bas Cristoph Fischesser as Rocco, met ’n stem van weelderige warmte.
Maar die onbetwiste ster was Abbado. Daar is deesdae ’n haas spirituele element aan elk van sy uitvoerings. Die sigbaar verswakte dirigent wat op die verhoog stap word met die lig van sy dirigeerstokkie getransformeer tot die maestro van die volledige emosionele bestek en tegniese eise van Beethoven se musiek. Musici wat saam met hom werk praat dikwels oor sy verstommende vermoë om met die minimum woorde ongekende dieptes in bekende musiek te verken. In tonele soos die kerker-konfrontasie tussen Florestan, Pizarro en Leonore, en die jubelende finale, bons hy met energie onversoenbaar met sy ouderdom, maar sonder om ooit in te boet aan die fyn balans van die musiek.
Hy rig daardie musiek tot ’n intensiteit van drama of vreugde wat ’n mens onwillekeurig laat terugdeins in jou sitplek of saam met Beethoven jubel, selfs in só ’n half-opgevoerde uitvoering. En in die introspektiewer oomblikke – die kwartet “Mir ist so wunderbar” of die koor van die gevangenes – tower hy uit die orkes ’n delikaatheid van klank wat die emosie haas tasbaar maak.
Verskeie van die gesigte in die Mahler-kamerorkes – nog ’n orkes byeengebring deur Abbado en die kern van die Luzern-feesorkes – was herkenbaar uit dokumentêre oor Abbado as dissipels van die maestro: topmusici wat enigiets sal laat vaar om saam met die Italianer te werk.
Die tema van die Luzern-fees vanjaar is “Eros” en Fidelio word ten regte of ten onregte gevier as die hoogste uitdrukking van getroude liefde op die operaverhoog. Hierdie uitvoering was egter netsoveel ’n uitdrukking van ander liefdes: tussen Abbado en Beethoven, van Abbado se musici vir hom, tussen die gehoor en “hul” maestro.
- Die Burger