'n Nuwe Afrikaanse musiekfees!
2010-09-02 14:21
Kaapstad - Vredendal dien binnekort as verhoog vir ’n splinternuwe musiekfees wanneer die Huisgenoot-Namaquafees van 28 tot 31 Oktober 2010 hier aangebied word. Dit is ’n blinknuwe fees en beloof net die heel beste, afgerond met egte Namaqua-gasvryheid.
Huisgenoot se gewilde musiekplaaskonsep gaan met die fees in Vredendal nuwe hoogtes bereik wanneer meer as twee dosyn van die heel beste en gewildste Afrikaanse sangers hier gaan optree.
Juanita du Plessis, Nicholis Louw, Die Broers, Viljoen Retief, Karen Ferreira, Arno Jordaan, Willem Botha, Andriëtte Norman, Gerrie Pretorius, Elizma Theron en Izak Davel is net ’n paar van die kunstenaars wat feesgangers in vervoering sal hê. Hulle kan ook uitsien om die stemme van Nádine, Kurt Darren, Albert de Wet, Wynand Strydom, Chereé, Andries Vermeulen, Fredi Nest, Romanz, Jennifer Jones, Heinz Winckler en Ray Dylan te hoor op die Huisgenoot Namaqua Wines-aandverhoog.
Die hoofborge van die geleentheid is Huisgenoot, Namaqua Wines en die Matzikama-munisipaliteit. Die naam Namaqua is gekies om ’n streekidentiteit aan die fees te gee, maar ook ter ere van Namaqua Wines, een van die grootste wynkelders in die suidelike halfrond, wat in Vredendal geleë is.
- Vir meer inligting besoek Huisgenoot.
- Volg Nuus24 op Twitter.