’n Emmy vir 'Sarah Palin'
2009-09-14 11:10
Los Angeles - Die aktrise Tina Fey het Saterdagaand gedurende die Emmy-toekenningsgeleentheid die prys gewen vir haar rol wat sy as die voormalige Republikeinse adjunk-presidensiële kandidaat Sarah Palin in die komediereeks Saturday Night Live vertolk het.
Die popster Justin Timberlake was ook vir verskeie rolle wat hy in Saterday Night Live vertolk het, vereer.
Beide sterre het toekennings onder die kreatiewe kuns-afdeling vir gasheerrolle verower.
Fey het met dié toekenning twee van haar mede-akteurs in haar eie NBC-komedie 30 Rock, geklop.
Dié komedie was die voorloper by die Emmys, met 22 benoemings altesaam.
"Mev. Palin is ‘n inspirasie vir werkende moeders, want sy het net voor die naweek van die 4de Julie haar rug op haar werk gedraai. Jy lewe my droom uit. Dankie mev. Palin,” het Fey geskerts.
Die toekenning is Fey se sesde Emmy in haar loopbaan. Sy kom ook in aanmerking vir twee ander toekennings by opkomende die hoofseremonie, insluitend 'n benoeming as beste aktrise in 'n komedie.
Timberlake het pas sy tweede Emmy ingepalm. Hy het verskeie karakters in ‘n episode van Saturday Night Live vertolk.
Die Emmy-toekenings is die top toekenningsgeleentheid vir Amerikaanse televisie.
- Reuters