kykNET rokkel Freek af
2009-11-22 13:58
Freek Robinson, TV- en radio-aanbieder, gaan vroeg volgende jaar ’n aktualiteitsprogram op kykNET aanbied.
Robinson het reeds sy huidige werkgewer, die SAUK, mondelings kennis gegee dat hy gaan bedank.
Die program, Robinson Regstreeks, sal regstreeks van Randburg uitgesaai word. Die program sal bestaan uit onderhoude met gaste, insetsels oor sekere kwessies en sal ondersoekende joernalistiek bevat.
Robinson het gister gesê hy sien uit na sy nuwe uitdaging. “?’n Regisseur het my genader, gesê hy beoog ’n program vir kykNET en gevra of ek sou belang stel om te anker. Ek’t dadelik ja gesê.”
Robinson sê daar is baie meer voordele verbonde aan die nuwe program as die vorige.
“Dis ’n uur lank pleks van die halfuur waaraan ek gewoond is. In ’n uur kan jy baie meer kwessies aanpak.”
Hy sê die “redelike begroting” vir die nuwe program maak dinge baie makliker.
“Die program gaan baie meer interaktief wees. Benewens telefoonoproepe en e-poskommunikasie met die kyker gaan ons ook van Skype gebruik maak. Dit stel ’n ou in staat om te sien hoe jou kyker lyk wat met jou praat.”
“Die grootste uitdaging is natuurlik dat die nuwe program op ’n baie stil tyd begin omdat mense nog in ’n vakansiestemming gaan wees.
“Dis hoekom ons ekstra hard gaan werk om dit ’n sukses te maak,” sê Robinson.
Karen Meiring, hoof van kykNET, sê dis ongelooflik opwindend om Freek by hul kanaal te hê. “Ons sien hom as volksbesit, as die vooraanstaande ondersoekende uitsaaijoernalis.”
Robinson se skuif na kykNET raak egter glad nie sy radioprogram op RSG nie.
kykNET se huidige aktualiteitsprogram, Wat’s die storie?, met Tim du Plessis en Shemane Harris as aanbieders, bly steeds deel van die programskedule.
Robinson Regstreeks is van 12 Januarie Dinsdagaande om 21:00 op kykNET te sien.
- Rapport
Vir meer hieroor, besoek Rapport