Zsa Zsa Gabor onder die mes
2010-07-19 10:27
Los Angeles - Die aktrise Zsa Zsa Gabor, wat nou in haar 90s is, het haar heup gebreek en sal 'n operasie moet ondergaan om dit te vervang, het haar agent Sondag gesê.
Gabor, wat in 'n rolstoel is nadat sy in 2002 in 'n motorongeluk was, het Saterdagaand van haar bed af geval toe sy die telefoon probeer antwoord het, het haar agent John Blanchette gesê.
Die aktrise, wat in Hongarye gebore is en bekend is vir haar nege huwelike, is by 'n hospitaal in Los Angeles opgeneem en sal Maandag haar operasie kry.
Gabor, wat nou met Prins Frederic von Anhalt getroud is, het in flieks soos Moulin Rouge, Lili en Touch of Evil gespeel.
Sy was ook een van drie glansryke susters wat Hollywood se kollig in die 1950s en 1960s gesteel het.
Volg Nuus24 op Twitter.
- Reuters