Yo-landi Vi$$er dalk in Hollywood-fliek
2010-07-02 07:14
Wes-Kaap - As ’n vooraanstaande Hollywood-regisseur sy sin kry, kan Yo-landi Vi$$er van die Kaapse rap-groep Die Antwoord binnekort teenoor die akteur Daniel Craig in ’n rolprent speel.
Die regisseur David Fincher slyp glo sy tande om Vi$$er die rol van Lisbeth Salander in die fliek The Girl with the Dragon Tattoo te laat speel.
Luidens berigte gister in die buitelandse media is sy glo die ideale kandidaat met haar gelaatstrekke en aanwendsels waarna Fincher soek.
Fincher was ook vir onder meer Fight Club en The Curious Case of Benjamin Button verantwoordelik.
The Girl with the Dragon Tattoo is ’n verwerking van die boek van Stieg Larsson met dieselfde titel.
In die boek vermoor die karakter van Lisbeth as 12-jarige meisie haar pa deur hom te verbrand. Lisbeth beland dan in ’n gestig. Sy ontmoet dan die karakter Mikael Blomqvist, met wie sy ’n seksuele verhouding begin.
Dit is onseker of Vi$$er al die rol oorweeg het. Die Antwoord het nie gister op navrae gereageer nie. Hulle tree vanaand in Pole op en Sondag in Denemarke ná ’n optrede verlede week in New York.
Op die sosiale webblad Facebook het die groep soos volg oor die gerugte gereageer: “Miskien dink hulle nee beteken ja. Soms beteken nee nee.”
Ná hul optredes die naweek tree Die Antwoord volgende week op in Duitsland, Tsjeggië, Serwië en Hongarye. Daarna kom Chicago, Vancouver, San Francisco, Boston, Los Angeles, Toronto, Mon-treal en Osaka en Tokio in Japan onder meer aan die beurt.
Daarna gaan die groep weer Europa toe vir optredes in Switserland, Oostenryk, Duitsland, België en Nederland. Die kaartjies vir hul vertonings in Oslo, Vancouver, San Francisco en Amsterdam is reeds uitverkoop.
- Die Burger