‘Woods ‘n leuenaar’ - porno-ster
2010-04-06 10:55
New York – Tiger Woods is ‘n ‘groot leuenaar’ wat met ‘n pornoster geslaap het, tien dae nadat sy vrou geboorte gegee het, het die vrou wat beweer dat sy ‘n verhouding met die gholfsensasie gehad het, Maandag gesê.
Joslyn James, wie se regte naam Veronica Siwik-Daniels is, het ‘n perskonferensie in die teenwoordigheid van die bekende prokureur, Gloria Allred gehou, onmiddellik ná Woods se eie perskonferensie om sy terugkeer na die Amerikaanse Meesterstoernooi aan te kondig.
“Ons glo dat hy nog nie gerehabiliteer is nie,” het Allred aan verslaggewers en fotograwe gesê.
“Ons is teleurgesteld. Ons het gewag dat hy aan sy minaresse moes om verskoning vra.”
Die 39-jarige James het reguit gepraat en Woods bestempel as 'n 'groot leuenaar'.
“Hy is nie eerlik nie. Tien dae na die geboorte van sy dogter was hy met my gewees,” het sy gesê.
Na die perskonferensie het Woods vrae ontwyk toe hy gevra was hoe hy sy ontrouheid aan sy vrou Elin ‘n geheim kon hou. Sy sal hom nie vergesel by die Meesterstoernooi nie.
“Jy leef ‘n lewe waar jy die hele tyd leuens vertel,” het Woods verduidelik.
“Ek het so baie mense naby aan my seergemaak. Ek het vir myself gelieg, en ek neem volle verantwoordelikheid vir wat ek gedoen het.”
Woods het stil gebly toe hy uitgevra was oor sy buite-egtelike verhoudings, sy motorongeluk op 27 November en ook oor sy huidige verhouding met sy vrou.
- AFP