Woods: 'Vir eers klaar met gholf'
2009-12-12 04:58
Washington - Tiger Woods, die wêreld se mees geliefste gholfspeler gaan ‘n onbepaalde breuk van dié sport neem, om die skade wat hy aan sy huwelik gedoen het, reg te maak.
Só het hy Vrydag op sy webwerf gesê.
Dít kom nadat hy ‘n hofbevel gekry het wat publikasies in Brittanje verhoed om enige video-opnames of kaalfoto’s van hom te publiseer.
Die 33-jarige Woods is in die kollig sedert hy in ‘n motorongeluk buite sy huis in Florida betrokke was. Hy het snye aan sy gesig en ‘n paar ligte kneusplekke opgedoen.
Woods wat getroud is met ‘n Sweedse vrou en die pa van twee jong kinders, het vroeër in 'n verklaring op sy webwerf gesê hy is jammer hy het sy familie in die steek gelaat.
Poniekoerante in Amerika en Brittanje het reeds verskeie foto’s en kommentaar van vroue gepubliseer, wat beweer dat hulle verhoudings met die gholfsensasie gehad het.
Sonder om enige van die beweerde verhoudings te erken, het Woods gevra dat sy privaatlewe gerespekteer moet word.
Sy borge het reeds aangedui dat hulle by hom sal staan.
Een publikasie in Amerika het reeds aangedui dat hulle foto’s van Woods aangebied was, waar hy glo kaal is.
Volgens ‘n brief wat in die hof voorgelees is, het Woods aangedui dat hy nie bewus is van enige kaalfoto’s wat van hom geneem is nie.
Die Florida Highway Patrol het hul ondersoek ná Woods se ongeluk gesluit en ‘n boete aan hom opgelê vir roekelose bestuur. Woods gaan nie krimineel vervolg word nie.
Sy vrou Elin Nordegren, het na die ongeluk aan die polisie gesê sy het ‘n gholfstok gebruik om die agterruit van sy motor stukkend te slaan, om hom uit die motor te haal.
Woods het ook nog nie erken dat hy dié betrokke dag met sy vrou geskel het oor sy beweerde verhoudings, toe die ongeluk plaasgevind het nie.
Hy het ‘n boete van $164 (sowat R1230) betaal.
- Reuters