Wink Oscar vir This is It?
2009-10-29 20:29
Los Angeles – Michael Jackson se nuwe rolprent This is It is te laat in die jaar vrygestel om vir 'n dokumentêre Oscar-toekenning oorweeg te word, maar die rolprent oor die Koning van Pop se voorbereidings vir 'n reeks konserte, kan dalk kwalifiseer vir ander Hollywood vererings, insluitend die toekening vir beste film.
Die film wat Dinsdag en Woensdag geopen het, is reeds wyd geprys deur aanhangers en kritici.
Kenny Ortega, vervaardiger van die film, het gesê hul hoofdoel was om 'n goeie storie aan Jackson se aanhangers te vertel, sodat hulle kan verstaan wat hy vir hulle gedroom het.
Steven Gaydos, uitvoerende redakteur van Variety, het gesê die rolprent se kanse om te kwalifiseer vir 'n toekenning is meer as net wensdenkery. Volgens hom kan This is It homself as een van die mededingers bevind.
“Om hiervoor te kwalifiseer moet die film vir sewe dae in Los Angeles vertoon word, en die rolprentvervaardigers moet die nodige dokumentasie deurgee,” het Leslie Unger, woordvoerder vir die Academy van Motion Picture Arts and Sciences gesê.
Die film kan selfs in die kategorieë vir klank en redigering benoem word.
Sony het ongeveer $60 miljoen (sowat R468 miljoen) vir This is It betaal. Hulle het nie gereageer op navrae oor of hulle beplan om die rolprent vir enige van die Oscar-kategorieë te benoem nie.
Volgens Gaydos kan Ortega, veteraan-regisseur en vervaardiger van High School Musical, homself tussen die mededingers vir ‘n Oscar bevind, omdat die rolprent nie net gedoen was nie, maar ook baie interessant en kreatief is.
This is It kan ook vir ‘n Golden Globe-toekenning benoem word, indien dit voor 6 November ingehandig word, wat die spertyd is.
- Sapa