Winehouse-toneelstuk in Denemarke gekanselleer
2012-11-27 16:15
Kopenhagen, Denemarke – 'n Toneelstuk oor die sangeres Amy Winehouse wat in Januarie in Denemarke sou begin, is gekanselleer nadat die ontslape sangeres se familie die gebruik van haar foto's en musiek verbied het.
Chris Goodman, woordvoerder van die Winehouse-familie, het gesê die teatermaatskappy het nooit toestemming ontvang om die sangeres se materiaal te gebruik nie.
Die toneelstuk, Amy, is deur 'n groep van 11 Deense dramaturge geskryf en sou op 30 Januarie begin. Dit is gebaseer op onderhoude, konserte, Winehouse se briewe en koerantberigte.
Die Deense kopieregagentskap Koda het voorheen toestemming gegee dat die toneelstuk in Denemarke se Royal-teater opgevoer kan word.
"Ons het in goedertrou opgetree toe ons hulle toestemming gegee het vir die vertoning. Ons het geglo dat die formaat – 'n toneelstuk – in orde was," het Nicolaj Hylten-Cavallius, woordvoerder van Koda, gesê.
"Haar pa en die prokureurs het gesê ons kan vergeet vir al die regte vir die musiek, foto's, handelsmerke en alles."
Hylten-Cavallus het gesê Mitch Winehouse, die sangeres se pa, het nie 'n rede verskaf waarom die materiaal nie gebruik kan word nie.
– Volg Nuus24 op Twitter
- Sapa - AP