Winehouse se lykskouer bedank
2012-02-02 22:52
Londen – Die lykskouer wat toesig gehou het oor die ondersoek na Amy Winehouse se dood, het bedank nadat haar kwalifikasies bevraagteken is.
Die ondersoek na die sangeres se dood sal moontlik weer uitgevoer word.
Winehouse se familielede sê hulle absorbeer nog die implikasies van die nuus. Hulle sal ook regsadvies soek.
Suzanne Greenaway het in Oktober 2011 gesê die soul-sangeres het weens alkoholvergiftiging gesterf. Winehouse is verlede Julie in haar Londense huis dood aangetref.
Greenaway is in 2009 as ‘n assistent-adjunk-lykskouer aangestel. Sy is deur haar man, Andrew Reid, aangestel. Hy is die lykskouer vir die noorde van Londen.
Sy het in November bedank nadat owerhede uitgevind het dat sy nie, soos die reëls stipuleer, vyf jaar lank ‘n geregistreerde prokureur in die Verenigde Koninkryk was nie. Sy het vir tien jaar as ‘n prokureur in haar geboorteland, Australië, gewerk.
Greenaway se bedanking is Woensdag eers in die openbaar aangekondig.
Reid het in ‘n verklaring gesê hy was onder die indruk dat haar ondervinding as ‘n prokureur in Australië aan die vereistes van die pos voldoen het.
“In November verlede jaar het dit duidelik geword dat ek ‘n fout in die aanstellingsproses begaan het...” het hy gesê.
“Ek het haar bedanking aanvaar.”
Na bewering het Reid geen wette oortree nie, maar hy het dalk professionele riglyne verbreek.
Die saak word deur die Britse kantoor vir geregtelike klagtes ondersoek.
Volg Nuus24 op Twitter
- AP