Winehouse se liedjies sal steeds vrygestel word
2011-07-25 18:00
Los Angeles – Nuwe liedjies van wyle Amy Winehouse sal steeds ná haar sterfte vrygestel word, het haar musiekvervaardigers gesê.
Die 27-jarige Winehouse is Saterdag by haar huis in Camden, noord van Londen, dood gevind. Die oorsaak van haar dood is nog nie bekend nie en ‘n nadoodse ondersoek sou na verwagting Maandag gedoen word.
Winehouse het vir die afgelope twee jaar aan haar derde album met die musiekvervaardigers Salaam Remi en Mark Ronson gewerk.
Albei vervaardigers het ook al in die verlede liedjies vir Winehouse se album Back To Black, wat in 2006 vrygestel is, vervaardig.
Adam Liversage van die British Phonographic Industry (BPI) het gesê daar is ‘n groot aanvraag na Winehouse se liedjies wat nog nie vrygestel is nie.
Volgens bronne is daar "baie materiaal" om van te kies vir enige toekomstige vrystellings van Winehouse se liedjies.
– Contact Music.
– Volg Nuus24 op Twitter.