Wenner van MasterChef kom na SA
2011-08-26 13:45
Johannesburg – Adam Liaw, die wenner van MasterChef Australia, sal in September na Suid-Afrika kom.
Suid-Afrikaanse gehore het Donderdagaand op M-Net gesien hoe Liaw as wenner gekroon is en aanhangers gaan nou kans kry om hom tussen 22 en 25 September in aksie te sien by die Good Food and Wine Show in Johannesburg.
Liaw sal ook deelneem in die BBC Lifestyle Theatre waar kaartjiehouers saam met hom sal kan kook.
Oor sy nuwe titel het Liaw gesê: “Dit was ongelooflik. Ek dink nie ek was al ooit so gelukkig nie! Aan al die kykers, die grootste dankie in die wêreld aan julle. Dit is ‘n wonderlike gevoel om te weet dat daar letterlik miljoene mense was wat my ondersteun het.”
Liaw is ook nie die enigste deelnemer aan MasterChef wat by die Good Food and Wine Show te sien sal wees nie. Alvin Quah sal ook sy talente kom wys, sowel as die gewilde sjef Gordon Ramsay.
Intussen beplan M-Net om ‘n Suid-Afrikaanse weergawe van die reeks te vervaardig.
Kaartjies vir die Good Food and Wine Show is by Computicket te koop.
– Channel24
– Volg Nuus24 op Twitter