Weer 'n affair by die Baxter
2010-08-09 12:22
Kaapstad - Remix-dansgeselskap se Lovaffair keer in Augustus terug na die Baxter-teater in Kaapstad.
Met die 20-jarige Nadine McKenzie in 'n rolstoel wys dié show enigiemand kan dans, en dop Lovaffair algemene persepsies rondom gender en gestremdheid op hul kop.
Die vertoning lê êrens tussen kontemporêre dans en eksperimentele teater en Lovaffair bied vermaak sowel as 'n bietjie opvoeding.
Verskillende dansstyle en mense met uiteenlopende liggaamlike vermoëns word saamgegooi om dans en drama op só 'n wyse te kombineer dat die kyker nie anders kan as om sy persepsies rondom gestremdheid, seksualiteit en genderrolle opnuut in oënskou te neem nie.
Regisseur Ina Wichterich-Mogane se geselskap bestaan verder uit Malcolm Black, Lee-anne Meyer, Andile Vellem en Marlin Zoutman.
Dié permanente Lovaffair-dansers word bygestaan deur Bongile Mantsai en Chuma Sopotela, wat beide toekennings opgeraap het in die bekende Karoo Moose.
Sopotela was ook die wenner van die 2008 Fleur de Cap-toekenning vir beste aktrise.
Volg Nuus24 op Twitter.
- Nuus24