Wedders ook in rep en roer oor babanuus
2012-12-04 09:23
Londen – Beroepswedders meens prins William en sy vrou, Catherine, die hertogin van Cambridge, gaan hul baba na 'n nabye familielid vernoem.
Die prins se ontslape ma, Diana, is een van die vroeë voorlopers.
Weddenskappe is oor 'n reeks markte aangebied, van die baba se naam, geslag, gewig, peetouers, haarkleur en selfs die dag en tyd van die geboorte.
Die baba sal die derde aanspraakmaker op die troon wees, wat beteken 'n koning John II of koningin Anne II kan op die kaarte wees.
Die beroepswedders William Hill se vroeë gunstelinge is Frances en John op 9/1, met Charles, George en Victoria op 10/1, gevolg deur Anne, Diana, Philip, Richard en Spencer op 12/1 en Henry, Mary en Sarah at 14/1.
Frances was Diana se tweede naam, haar pa se naam was John en die gesin se van is Spencer.
Elizabeth en William is albei op 16/1, terwyl Catherine 20/1 is.
Die Ierse beroepswedders Paddy Power het Mary, Victoria en John op 8/1, gevolg deur Diana en Frances op 9/1 en Philip, Anne, Charles en George op 10/1. Sarah en Louis is 12/1.
"Ons is vol vertroue dat hulle 'n tradisionele naam in die familie gaan kies," het Feilim Mac An Iomaire, woordvoerder van Paddy Power, aan die nuusagentskap AFP gesê.
– Volg Nuus24 op Twitter
- Sapa - AFP