Wanverhoor in Travolta saak
2009-10-22 12:47
Nassau – ‘n Regter in die Bahamas het ‘n wanverhoor verklaar in die saak van twee mense wat daarvan beskuldig word dat hulle $25 miljoen (sowat R187 miljoen) uit die akteur John Travolta wou forseer.
Hoofregter Anita Allen het ‘n wanverhoor verklaar nadat dit aan die lig gekom het dat ‘n politikus by sy party se jaarlikse vergadering, wat regstreeks op televisie en radio uitgesaai is, voortydig aangekondig het dat die twee beskuldiges in die saak vrygespreek is.
Een van die beskuldiges, oudsenator Pleasant Bridgewater, behoort aan die einste politieke party waardeur die aankondiging gemaak is.
Bridgewater en 'n die ander beskuldige, ‘n paramedikus Tarino Lightbourne, het glo probeer om Travolta af te pers met private inligting oor die reddingspoging ná sy seun se dood in Januarie vanjaar.
Die regter het nie ‘n datum vir ‘n herverhoor gegee nie.
- Reuters