Vuildans-Idol weer in pad gesteek
2009-12-04 16:17
New York – Net ‘n week nadat 'n oggend-televisieprogram hom die trekpas gegee het, is die American Idol Adam Lambert steeds in die moeilikheid vir sy gewaagde vertoning tydens die Amerikaanse musiektoekennings (AMA).
Lambert het gesê ABC se Jimmy Kimmel Live en New Year's Rockin' Eve (NYE) programme het hom die trekpas gegee.
Die netwerk het glo besluit om nie voort te gaan met die idee om Lambert op Kimmel se program te hê nie.
Patrick Preblick, woordvoerder vir ABC, het gesê dat die sterre wat in NYE sal verskyn nog nie aangekondig is nie, maar Lambert het op die sosiale netwerk Twitter gesê hy sal nie op dié program verskyn nie.
“Ongelukkig het ABC my verskyning op Kimmel en NYE gekanselleer. Kom ons fokus daarop om positief te wees,” het hy gesê.
Intussen het die netwerk NBC gesê Lambert sal ‘n verskyning op die Jay Leno Show op 21 Desember maak en Barbara Walters sal ‘n onderhoud met hom voer vir haar Most Fascinating People of 2009 episode wat volgende Woensdag uitgesaai word.
- AP