‘Vrystaat’ oes prys in op fees in Amerika
2012-01-30 10:00
Die Suid-Afrikaanse rolprentmaker Etienne Kallos is op die Sundance-rolprentfees in Park City, Utah, met ’n Global Filmmaking-eerbewys vereer.
Kallos, wat op die fees die aandag met sy projek Vrystaat getrek het, beskryf die prent as “die lewensgebeurtenisse van ’n generasie jong mans in Afrika ná kolonialisme. Dit ondersoek manlike identiteit en seksualiteit teen die agtergrond van die mielie-oes in die Vrystaat.”
Die Global Filmmaking-toekenning vereer en ondersteun opkomende onafhanklike rolprentmakers wêreldwyd.
Kallos ontvang ’n kontantprys van sowat R80 000, toegang tot die rolprentfees en ’n jaar lange mentorskap van die Sundance-instituut, asook strategiese, kreatiewe en tegniese ondersteuning.
Kallos het ’n meestersgraad in rolprentkuns aan die Universiteit van New York (NYU) behaal nadat hy ’n BA-graad in Engelse letterkunde en teater aan die Universiteit van Rhodes verwerf het.
In 2009 is sy kortrolprent Eersgeborene as die beste kortprent op die Venesiese rolprentfees aangewys.
Dit is rofweg gegrond op sy mentor, die dramaturg Reza de Wet, se drama Diepe Grond. Kallos se prente het al op die feeste Sundance, Cannes en Berlyn gedraai.
Ander wenners van die Global-eerbewys is Ariel Kleiman (Australië) vir Partisan, Dominga Sotomayor (Chili) vir Late to die young en Shonali Bose (Indië) vir Margarita with a straw.
– Volg Nuus24 op Twitter.
- Volksblad