Vrou tronk toe wat geld van U2-lid verduister
2012-07-06 20:43
Dublin – ‘n Voormalige huishulp van Adam Clayton, U2 se baskitaarspeler, het sewe jaar tronkstraf gekry ná ‘n Ierse jurie beslis het dat sy skuldig is aan verduistering van meer as €2.8 miljoen (sowat R28 miljoen) van die musikant se geld.
Carol Hawkins het geen emosie getoon terwyl tronkbewaarders haar uit die Dublin-strafhof gelei het nie.
Hawkins was vry op borgtog sedert sy verlede week skuldig bevind is aan 181 aanklagte dat sy tjeks, wat uit Clayton se bankrekening gekom het, tussen 2004 en 2008 vir haar eie gewin gebruik het.
Rekords toon sy het die geld gebruik om duur ontwerpersklere, 22 volbloedperde, ‘n motor, universitiesfooie vir haar twee kinders en eersteklasvlugte te koop.
Patrick McCartan, regter in dié saak, het Vrydag beslis dat die 48-jarige Hawkins geen berou getoon het nie en dat sy soortgelyke oortredings kan begaan as sy nie nou swaar gestraf word nie.
– Volg Nuus24 op Twitter.