Voorprent: Schuster se film Mad Buddies
2011-12-02 12:32
Kaapstad – Die voorprent van die grapjas Leon Schuster se nuwe fliek Mad Buddies is uiteindelik vrygestel.
Die film, wat oor 'n tydperk van 18 maande ontwikkel is, is meer soos ’n werklikheidsreeks is as ’n loerkamera-prent.
Dié rolprent is Schuster se eerste sedert 2010 se treffer Schuks Tshabalala's Guide to South Africa, wat plaaslike loket-rekords gebreek het en selfs beter gevaar het as sy vorige trefferfliek, Mr Bones 2.
Daar is ook baie bekende akteurs saam met Schuster in die film waaronder Kenneth Nkosi (Jerusalema, Tsotsi, White Wedding), die model en aktrise Tanit Phoenix (Spud, Straight Outta Benoni) en ook Alfred "Shorty" Ntombela (Sweet 'n Short, Schuks Tshabalala's Guide to South Africa)
"Ek is baie opgewonde om die voorprent met my aanhangers te deel. Ek kan nie wag om te hoor hoe mense Mad Buddies gaan ontvang nie. Dit is 'n film wat iets anders na vore bring as wat ek al in die verlede gedoen het," het Schuster oor sy nuwe film gesê.
Mad Buddies is in Gauteng en Kwa-Zulu Natal verfilm met Gray Hofmeyr wat die regie hanteer het.
Die film sal vanaf 22 Junie 2012 in teaters in Suid-Afrika begin draai.
Aanhangers kan op Facebook op hoogte bly oor die ontwikkeling van die film.
– Channel24.
– Volg Nuus24 op Twitter.