Vlieg, stap of trap Daisie-fees toe
2011-09-05 13:55
Kaapstad – Suid-Afrikaanse musiekgroepe soos Foto na Dans, Jack Parow, Just Jinjer, aKING en Lark sal vanjaar die verhoog by Rocking the Daisies saam met internasionale groepe soos Belleruche deel.
Die Sama-bekroonde YOAV sal ook by vanjaar se gewilde musiekfees optree.
Maak seker jy kry jouself op 7 Oktober in Darling vir Suid-Afrika se omgewingsvriendelike musiekfees. Die partytjie duur tot Sondag, 9 Oktober.

Die internasionale groep Boom Pam gaan ook feesgangers vermaak (Foto: Verskaf)
Kyk hier na 'n video van verlede jaar se fees om te sien wat jy gemis het.
Luidens ‘n verklaring sal die Vrydagaand op ‘n spesiale manier deurgebring word – plaaslike kunstenaars soos Francios van Coke en Tasha Baxter sal saam optredes hou en deur vyftien musikante begelei word.
Die Daisie-span sal vandeesweek nog musiekgroepe aankondig wat by die fees sal optree.
Kliek hier vir die program.

Lark (Foto: Verskaf)
Vlieg
Die lugredery Velvet Sky se Daisy Plane sal Rocking the Daisies se Jozi-feesgangers die spesiale geleentheid bied om na die fees te vlieg teen R999. Die aanbod sluit retoervlugte én jou kaartjie na die hele naweek se fees in.
Slegs 200 kaartjies is beskikbaar, so bepreek dadelik hier.
Stap
Culture Talent in samewerking met Rocking the Daisies bied 2011 se Fruit and Veg City Walking the Daisies aan. Altesaam 100 feesgangers sal kuslangs na die fees stap.
Walking the Daisies het koppe saam met bobsforgood bymekaargesit. Dié inisiatief wil elke minderbevoorregte kind in Suid-Afrika ‘n paar leerskoene gee. Stappers sal gevra word om R150 vir dié organisasie te skenk.

Stappers kom in een stuk by die fees aan (Foto: Verskaf)
Aansoekvorms vir Walking the Daisies word op 9 September geloods, so hou www.rockingthedaisies.com dop vir meer inligting.
Trap
Altesaam 150 fietsryers sal die pragtige rit na die plaas buite Darling geniet. Dié feesgangers sal die feeskaartjies teen ‘n laer prys kan koop. Lees meer hieroor op Webtickets se webtuiste.
Kaartjies vir Rocking the Daisies kan by die restaurant Rafikis gekoop word of by uitgesoekte Fruit and Veg-winkels. Bespreek ook aanlyn by www.webtickets.co.za
Volg Nuus24 op Twitter.
- Nuus24