Vet spat oor resepte in Meyers se kookboek
2011-11-07 08:04
Kaapstad - Hoenderpastei met preie en aartappels. ’n Biefstuktoebroodjie. Sjokolade-poeding. Pasta met gerookte salm en tamatie. Macaroni-en-kaas en gebakte grondboontjie-en-karamelkaaskoek.
Dít is oor dié smullekkerdisse dat die vet nou spat tussen die bobaas-misdaadskrywer, Deon Meyer, sy vrou, Anita, en ’n bekende kosredakteur.
Gerugte van plagiaat doen die ronde nadat die Meyers in hul resepteboek, Kom Eet! Om die tafel met Anita en Deon Meyer, kwansuis nie die nodige erkenning gegee het aan Barbara Joubert, kosredakteur van Sarie, nie.
Die Sunday Times het Sondag berig daar is resepte in die Meyers se kookboek wat glo ooreenstem met resepte wat Joubert ’n paar jaar gelede vir Sarie saamgestel het.
Sarie se mede-uitgewer, Marina Smith, het Sondagaand aan Die Burger gesê hulle gaan nie kommentaar lewer nie. “Ons is tans in gesprek met Human & Rousseau (uitgewer van die boek) en verkies om nie kommentaar te lewer nie.”
Joubert word wel gekrediteer by twee van die geregte in die Meyers se boek.
In die resep van Vinnige Groentesop skryf Anita sy is “’n groot aanhanger van Barbara Joubert se resepte” in die tydskrif Sarie Kos. “Sy het oorspronklik die gebruik van die Kasselse tjop, om die sop ’n vleiserigheid te gee, as aparte wenk gelys, maar ek het dit sommer van die begin af ingevoeg.”
In die tweede verwysing, oor oondgeroosterde aartappels, word Joubert se lof wéér deur Anita besing. “Dankie tog dis Barbara Joubert van Sarie wat drie jaar geneem het om hierdie volmaakte oondgeroosterde aartappels te maak en nie ek nie.”
Deon Meyer is tans in Duitsland en Anita wou nie kommentaar lewer nie.
Deon Meyer het vroeër aan die Sunday Times gesê: “Ons spreek ons bewondering vir Joubert duidelik uit in die boek. Dit was altyd ons bedoeling om haar die nodige erkenning te gee. Dit was ’n fout aan my kant dat ons nie by ál die resepte erkenning gegee het nie.
“Dit sal beslis in die volgende oplaag reggestel word.”
– Volg Nuus24 op Twitter
- Die Burger