Verhoog vorder al fluks vir U2-konsert
2011-02-08 08:09
Johannesburg – In die ENB-stadion in Johannesburg vorder dit reeds fluks om die imposante verhoog vir die Ierse rockgroep U2 aanmekaar te slaan.
U2 is Sondagaand in Johannesburg vir sy 360°-konsert.
By Beeld se besoek aan die stadion Maandag was die eerste tekens van die vier reuse-bene reeds aan’t vorm aanneem.
Die bou van die verhoog is ’n logistiese uitdaging. Alles wat nodig is vir die konsert is per vragmotor uit Durban na Johannesburg vervoer nadat die groep onlangs in Australië opgetree het. Die verhoog is na Durban verskeep.
Die verhoog bestaan uit vier reuse-bene met ’n silindriese videoskerm in die middel daarvan wat beelde reg rondom sal projekteer. Die gehoor sal dan reg rondom die verhoog staan.
Die staalstruktuur sal uiteindelik 27 m hoog wees en die sentrale kolom 45 m hoog.
Daar is twee sulke konsertstelle en elk vul 150 skeepsvraghouers. Terwyl die groep in Johannesburg optree, kan daar solank begin word om die verhoog in Kaapstad te bou vir sy vertoning daar op 18 Februarie.
Die staal word oorgetrek met ’n materiaal wat vir Formule 1-motorwedrenne ontwerp is.
Dit vertoon groen in daglig, maar snags weerkaats dit enige kleur lig wat daarop geskyn word.
Op sekere oomblikke in die konsert sal die skerm “oopmaak” danksy ’n stelsel waarvolgens die verskeie panele van die skerm vertikaal oopsprei.
Die hekke maak Sondag 16:30 oop met Amadou and Marium wat 20:00 op die verhoog sal wees. Die Springbok Nude Girls volg 20:45 met U2 wat dan 21:30 sal regstaan om die skare te vermaak.
Konsertgangers word aangeraai om so vroeg moontlik daar te wees. Konsertgangers sal teen R70 retoer van die Park n Ride-vervoergerief gebruik kan maak om die stadion te bereik of van die Park-and-Rail-geriewe by die Nasrec-stadion teen R50 per retoerkaartjie.
Daar sal geen kitsbanke rondom die stadion beskikbaar wees nie en drank sal slegs binne die stadion gekoop kan word.
Daar is Maandag nog ’n beperkte aantal kaartjies beskikbaar gestel teen R696 elk.
By ter perse gaan, was daar nog van dié kaartjies beskikbaar, asook op die vloer rondom die verhoog teen R401.
Volledige verdere reëlings wat op die dag van die konsert van toepassing sal wees, is op die Computicket-webwerf beskikbaar.
Volg Nuus24 op Twitter
- Beeld