Vere waai oor Izak se Speedo en poseerdery
2010-03-25 07:36
Kaapstad - “Hy probeer poseer en tuur soos ’n Griekse god oor die oseaan uit.”
Die vroue van Survivor SA Santa Carolina op M-Net swymel behoorlik oor die spiertier Izak Davel se einaklein rooi Speedo wat bitter min aan die verbeelding oorlaat.
In Woensdagaand se episode van Survivor SA Santa Carolina was die oorblywende vroue se geduld uiteindelik op, met die vroue wat die laaste ruk reeds tot die uiterste deur Davel in sy piepklein Speedo’tjie beproef is.
Die ontkleedanseres Gigi het gesê Davel “probeer poseer en tuur soos ’n Griekse god oor die oseaan uit – iets wat Okkert Brits op natuurlike wyse gedoen het”.
Ook Sade Giliberti en Ashley Hayden was by breekpunt oor Davel se rooi swembroek wat hy twee dae voor sy vertrek na die eiland by Bonewear in Pretoria gekoop het.
“Hy poseer net die heeltyd,” en “Hy is net mooi – dis al wat hy die heeltyd doen,” is van die vroue se gefrustreerde opmerkings omdat Davel daarop aandring om net die rooi swemstukkie te dra.
Davel het gesê hy het net op die spel gekonsentreer en hom nie aan aanmerkings oor sy Speedo gesteur nie. Hy het gesê hy swem gewoonlik met ’n knielengte-swembroek, maar dat dit 40 °C op die eiland in die skaduwee was.
“Jou lyf het nodig om asem te haal.
“Die rol van die Speedo was om my normale onderklere te vervang,” het hy gesê. “Normale katoenonderbroeke of boxers sou eeue neem om droog te word, so dit was die slimmer keuse, het ek gedink.”
Davel het gesê sy swembroek, waarop kykers binnekort sal kan bie op Survivor SA se internetveiling, het sy werk gedoen.
“Alles het 90% van die tyd in plek gebly. Elke nou en dan moes ek maar van posisie verskuif.”
- Die Burger