Talle teen porno-realiteitsreeks
2011-02-20 12:51
Johannesburg - ’n Pornografiese werklikheidsreeks vir televisie.
Dís wat die vervaardigers van die seksrolprente gegrond op die lewe van Joost van der Westhuizen en Amor Vittone volgende in die mou voer.
Tongelong Produksies het Vrydagaand ’n mediaverklaring aan verskeie koerante gestuur waarin hulle voornemende kafoefel-sterre nooi om aan oudisies vir ’n werklikheidsreeks, Pornstars, deel te neem.
Dié stukkie nuus is met skok en ongeloof uit alle oorde begroet.
Don van Wyngaard van Tongelong Produksies het bevestig dat hulle oor twee weke met oudisies in Kaapstad, Gauteng, KwaZulu-Natal en die Oos-Kaap begin.
Voornemende deelnemers móét ouer as 18 jaar wees.
“Of jy nou dik of dun, wit of swart, gay of straight is, almal ís welkom. ‘Skoon’ seks gaan beoefen word en almal sal kondome gebruik.”
Die reeks gaan waarskynlik eers op DVD vasgelê, maandeliks saam met die pornografiese tydskrifte Hustler en Loslyf verpak en in Hustler-winkels verkoop word.
Maar ’n “sagter” weergawe van die reeks gaan ook vir ’n televisiekanaal vervaardig word, beweer Van Wyngaard.
Die lekeprediker Gretha Wiid het by navraag gesê Tongelong se plan is “ongehoord”.
“Die reeks is nie deel van God se prentjie nie. God se visie gaan oor intimiteit. Die reeks is ’n stappie nader aan ’n morele verval.”
Dirk Hermann, adjunk- uitvoerende hoof van Solidariteit, het gesê: “Daar is nie plek vir so ’n reeks in die gemeenskap nie.”
Dit is onduidelik vir watter televisiekanaal die vervaardigers ’n “sagter” weergawe van hul beoogde porno-reeks wil vervaardig.
M-Net en e.tv het al twee aan Rapport gesê hulle sal beslis nie so ’n reeks oorweeg nie.
Daar was ook nog geen advertensies in koerante vir oudisies, soos die vervaardigers gesê het daar sal wees nie – slegs die mediaverklaring wat uitgestuur is.
Van Wyngaard het gesê soos met Pop Idols sal daar van deelnemers verwag word om seks voor ’n paneel beoordelaars te hê.
Die deelnemers met die “swakste slaapkamermaniere” sal in uitkloprondes deur die kykers uitgestem kan word.
’n Manlike en ’n vroulike wenner sal gekies word en elkeen wen dan R5 000.
Benewens die kontantgeld sal die wenners ook in Tongelong se volgende fliek speel.
Joe Theron, baas van Hustler en Loslyf en medevervaardiger van Pornstars, het gesê: “Ons vind dat baie meer plaaslike akteurs bereid is om in ons rolprente te speel.”
Patrick Meyer, ’n vennoot, het gesê hulle beoog om verskeie televisiekanale oor die konsep te nader.
’n Herrie het verlede jaar losgebars toe MultiChoice ’n pornografiese kanaal wou begin. Hulle moes van die idee afstand doen.
Ashley Theron, nasionale hoof van Kinderwelsyn Suid-Afrika, het gesê kinders wat aan sagte pornografie blootgestel word, kan dalk die idee kry dat losbandige seks aanvaarbaar en begeerlik is.
“Dit hou nie net ’n gevaar in vir die kind nie, maar het ’n uitwerking op die langtermyn-persepsies oor intieme verhoudings.”
Caroline Nenguke van die Treatment Action Campaign (TAC) het gesê al wys akteurs min lyf vir ’n sagter weergawe vir televisie is dit steeds pornografie.
Gigi, wenner van die vorige Survivor SA-reeks en eienaar van die ontkleeklub Lollipop Lounge, het sê: “Ek dink nie dis ’n goeie idee nie. Ons het reeds soveel probleme met tienerswangerskappe.”
- Rapport