Van Coke vra sy meisie om haar hand
2011-01-11 08:52
Die Burger
Johannesburg - “Ek is elke dag van voor af verlief.”
Só het die sanger Francois van Coke van die groep Van Coke Kartel gesê wat Saterdag verloof geraak het aan sy meisie van die afgelope nege jaar, Lauren Wiid.
Van Coke (30), ook hoofsanger van Fokofpolisiekar, en Wiid het verloof geraak tydens ’n week lange vakansie in Kleinmond en Hermanus. “Ek het die ring die heeltyd by my gehad. Dit het ’n gat in my sak gebrand. Die dag voordat ons teruggekom het, het ek die moed bymekaargeskraap en die knie gebuig,” het hy Maandag vertel.
Wiid (27), ’n kunsregisseur, is ’n Wellingtonse meisie wat sedert die einde van haar skoolloopbaan in Kaapstad woon. Die paartjie gaan al nege jaar lank “aan en af” uit, soos Van Coke sê. “Ons het al ’n paar keer uitgemaak, maar het altyd weer by mekaar uitgekom. Sy is die liefde van my lewe en ek is elke dag van voor af verlief.”
Wiid se ring is goud met ’n knewel van ’n diamant. Van Coke het dit vir haar laat ontwerp, “presies soos sy dit wou gehad het”. Volgens hom is Wiid baie opgewonde en bly dat hy haar uiteindelik gevra het.
Dit lyk asof hulle eers in die begin van 2012 tyd gaan kry om te trou, het Van Coke gesê.
Tot dan gaan hulle die “land aan die brand speel” wanneer die groep einde vandeesmaand weer met optredes begin ná ’n welverdiende vakansie.
Van Coke Kartel is in 2007 gestig en bestaan uit Van Coke (Francois Badenhorst), Wynand Myburg, Jason Oosthuizen en Jed Kossew. Hulle het in 2009 ’n Suid-Afrikaanse musiektoekenning gewen vir hul album Waaksaam en Wakker.