VCK rock harder as ooit
2011-12-02 07:41
Kaapstad – Al die voorspellings van die einde van die wêreld wat die afgelope paar maande gereeld die ronde gedoen het, het ‘n groot invloed op die skryf en styl van Van Coke Kartel se nuwe album, Wie’s Bang, gehad.
So vertel Francois van Coke, die hoofsanger van dié groep, terwyl hy aan ‘n koffie teug by die JC Brasserie & Pub restaurant, naby Mercury in Kaapstad.
“Dit is elke dag eintlik die einde van die wêreld... of nie,” lag hy.
Wie’s bang is met twee nuwe lede aangepak: Jason Oosthuizen en Jedd Kossew.
“Met ons vorige CD het ek en Wynand (Myburgh) saam met verskillende players gewerk om die album op te neem. Ons het net daarna besluit dit is nou tyd om ‘n band bymekaar te sit,” verduidelik Francois.
“Snake (Venter, die tromspeler van aKing) het altyd vertel van Jason wat ‘n cool drummer is en ons het hom toe oortuig om Kaap toe te kom.
“Ons moes ook ‘n hoofkitaarspeler kry en Jedd is die enigste ou wat ek toe ken wat decent kitaar kan speel, maar hy wou eintlik terug Engeland toe om in ‘n ander band te gaan speel. Op die ou end het hy tog besluit om eerder in Van Coke Kartel te speel.”

Jedd Kossew Jason Oosthuizen
Hulle het aan die einde van 2010 begin om aan die nuwe album te skryf en hoewel dit steeds baie dieselfde as hulle vorige werk klink, is dit ook anders.
“Wie’s bang is baie meer rock driven en aansienlik minder electronic as van ons vorige goed. Met Jedd se talent in die band het ons net soveel meer opsies oor wat ons met die musiek kan doen. Hy het omtrent 95 % van die musiek vir die album geskryf.”
Francois sê sy lewe is nou effens makliker as wat dit was toe Fokofpolisiekar, die band waarin hy en Wynand bekendheid gewerf het, net begin het.
“Daar was destyds niks in die Suid-Afrikaanse music scene nie – geen MK, geen musiekfeeste, geen Facebook. Daar was MySpace, maar dit was maar k--.
“Dinge is nou vastly verskillend. Ons het hard gewerk om te kom waar ons nou is.
“Ons doen nog gereeld shows saam met die ander ouens van Fokof, maar die break in 2007 het gesorg vir die oorlewing van Fokofpolisiekar. Ek is seker ons sal weer ‘n album saam maak.”

Francois van Coke Wynand Myburgh
In 2011 was Van Coke Kartel oorsee – Engeland, Holland en Taiwan – en Francois hoop dat hulle in 2012 weer so 'n oorsese toer kan inwerk.
“Die ontvangs van die band oorsee is goed, maar verskil van plek tot plek. In Engeland speel ons maar eintlik net vir die expat Suid-Afrikaners, wat cool is."
In Taiwan het die groep by ‘n fees opgetree wat oor ‘n tydperk van vyf dae deur bykans 1.2 miljoen mense bygewoon is.
“Dis baie motiverend om daar te speel, want maak nie saak in watter taal jy sing nie, die mense daar like dit. Ek meen, hulle kan skaars Engels verstaan, wat nog van Afrikaans.”
Tot vroeg in Januarie gaan die ouens van Van Coke Kartel besig wees met ‘n bekendstellingstoer vir die album, sê Francois.
Die groep gaan vir ‘n rukkie in Januarie vakansie hê en dan begin die siklus weer in Februarie van voor af. Francois hoop dat 2012 net soveel sukses inhou as wat 2011 hulle mee gelaat het.

– Volg Francois van Coke op Twitter.
– Volg Nuus24 op Twitter.