Usher kan dalk toesig oor kinders verloor
2011-11-30 22:24
Los Angeles – Die R&B-sanger Usher se eksvrou, Tameka Raymond, wil nie hê hy moet hul kinders meer sien nie.
Raymond wil aanvoer dat die sanger nie sy wettige verpligtinge nagekom het nie. Sy en Usher het gesamentlike toesig oor hul seuns, Usher (4) en Naviyd (3).
Volgens dokumente wat sy by die hof ingedien het, het Usher versuim om haar toestemming te verkry toe hy hulle uit die land geneem het.
Hy het ook nie toestemming by haar gekry voordat hy kinderoppassers gehuur het nie. Hy vra haar ook nooit om na die kinders te kyk wanneer hy vir meer as agt ure weg gaan wees nie.
Raymond beweer ook die 33-jarige Usher het haar in 2010 nie toegelaat om oor die somer en Kersfeestydperk toesig oor hul kinders te hê nie.
Volgens haar het die sanger ook haar kredietkaart toegemaak nadat hy spesifiek gesê het hy sal dit nie doen nie. Raymond beweer sy kan nie meer gebruik maak van die spesiale voordele wat dié kaart haar bied nie.
Hy skuld haar glo ook $34 000 (sowat R288 000) in betalings nadat hy belowe het om maandeliks $5 000 (sowat R42 000) aan haar te betaal sodat sy ‘n oppasser kan huur om na die kinders te kyk.
Raymond soek ook meer geld vir kindertoelaes en voer aan sedert hulle in 2009 geskei het, het sy inkomste aansienlik verander.
‘n Verhoor is vir Woensdag (vandag) geskeduleer.
– Bang Showbiz.
– Volg Nuus24 op Twitter.