'Umshini wami' in Afrikaans?
2009-08-18 06:41
Charles Smith
Bloemfontein – “Bring my masjiengeweer!” kan pres. Jacob Zuma se lied “Umshini wami” eersdaags in Afrikaans deur die land weerklink as hy wel ernstig is om dié proteslied te laat vertaal.
Zuma is Saterdag op ’n vergadering met minderhede in die Bloemfonteinse stadsaal nie net vir ’n jagtog in die Vrystaat genooi nie, maar ook om sy omstrede liedjie in Afrikaans te vertaal.
Dirk van der Berg, ’n sakeman, het die land se eerste burger vir ’n jagtog genooi en gesê hy moet “Umshini wami” in Afrikaans vertaal “sodat ons almal dit kan saamsing”.
Hy wou sommer ook weet of die president se masjiengeweer gelisensieer is.
Zuma het lekker gelag.
Hy wou dadelik weet wat die Afrikaanse vertaling vir die titel is. Henry Boshoff, seremoniemeester, het hom vinnig reggehelp.
“Bring my masjiengeweer!” het hy onder groot toejuiging in Afrikaans uitgeroep.
“Dit klink sommer lekker in Afrikaans! Dit klink baie lekker. Ek gaan my kantoor opdrag gee om ’n vertaler te soek,” het Zuma op Engels gesê.
Zuma het op ’n stelling van ’n afgevaardigde dat wit sakelui ’n bydrae kan lewer tot werkskepping, maar dat deure in hul gesigte toegeswaai word, gesê in só ’n geval moet mense sy nuwe hulplyn in die presidensie bel en sê hulle wil help met werkskepping.
“Ons sal dit van daar af neem,” het hy gesê.
– Die Burger