UP vereer Prinsloo met medalje
2011-09-10 09:29
Johannesburg - Die aktrise, programaanbieder en regisseur Sandra Prinsloo is pas tydens die lentegradeplegtigheid van die Universiteit van Pretoria (UP) met die kanseliersmedalje vereer vir haar baanbrekerswerk oor jare in die toneelkuns.
Sy het in 1964 aan die Afrikaanse Hoër Meisieskool in Pretoria gematrikuleer en daarna drama aan UP studeer.
In 1968 het sy by Truk aangesluit totdat die Markteater sewe jaar later geopen het. Daarna het sy met haar vryskutloopbaan begin.
In haar loopbaan het sy verskeie hoofrolle in die dramas van bekende internasionale en plaaslike dramaturge vertolk.
Sy het ’n reputasie as uitstekende aktrise in lande soos Engeland, Frankryk, Duitsland en die VSA verwerf en gespeel in dramas soos Breath of Life en Tigers Don’t Cry.
Haar verskyning in die titelrol van Miss Julie teenoor die swart akteur John Kani in 1985 is met bomdreigemente en gewelddadige aanvalle begroet. Sy was die eerste wit Suid-Afrikaanse aktrise wat op die verhoog in liefdestonele met ’n swart akteur verskyn het.
Haar rolprentloopbaan sluit rolle in onder meer The Gods Must be Crazy, Quest for Life, The Good Fascist, Die Prins van Pretoriaen Soweto Greenin.
Prinsloo het talle pryse ontvang, insluitende ses Computicket-toekennings vir beste aktrise op die Suid-Afrikaanse verhoog en verskeie M-Net- en Vita-pryse.
Sy het ook ’n toekenning van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns gekry vir haar lewenslange bydrae tot die teater.
Nuwe produksies waarin Prinsloo vanjaar te sien is, sluit in Janneman, Night Mother en die Afrikaanse vertaling daarvan,Nag Ma.
– Volg Nuus24 op Twitter
- Die Burger